041 364 2608

 

 
 
 

lering

Agtergrond:

Die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard.
Hierdie is seker een van die mees kragtigste uitsprake aangaande die Bybel en ons (ABK PE) glo dat dit die waarheid is.
Ons begeer om in meer diepte en met suiwere bedoelinge die Skrifte te ondersoek. Ons wil graag meer van die Here leer en nader aan Sy heilige teenwoordigheid wandel. Hy het immers gesê, "Wees heilig want ek is heilig".


As ons dit met 'n Skrif moes vergelyk sou ons dadelik verwys na die mense van Berea van wie Lukas in Handelinge geskrywe het dat hulle edelmoediger was as die res, omdat hulle die woorde van die apostels getoets het aan die Skrifte, om te sien of alles wat die apostels hulle geleer het, die waarheid was. Dat ons in hierdie lewe alles gaan weet wat daar te wete is van God, en dat ons onsself kan uitgee as volleerd, sal 'n reuse misopvatting wees. Ons bly dus nederig, maar met 'n diepe begeerte om meer van die Here te weet. In hierdie gemeente is die prediking van God se Woord (die Bybel) prominent en primêr. Die Bybel is genoegsaam en gesaghebbend
in alle omstandighede van hierdie lewe. En dit glo ons.


Visie:
Ons visie is om elke mens volkome in Christus Jesus voor te stel (gereed te maak vir Sy wederkoms) deur deeglike en verantwoordelike Skrifverklaring wat 'n lewensstylverandering by die mens teweeg bring.


Missie: 

Hom verkondig ons (ABK PE) deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring.       

                          

Missie Verklaring:
Om die bogenoemde visie tot verwerkliking te bring het ons die volgende stappe/prosesse in plek gesit.

1. Dat slegs Skrifverklarende prediking (eksposerend) bedryf sal word en dat ook die predikers wat genooi word om hier te preek so 'n benadering sal volg.
2. Dat die Bybel gebruik sal word om te weerlê (valshede uit te wys), te bestraf (wanneer mense besig is met en betrokke is by sonde) en te vermaan (die regte pad aan te dui).
3. Dat die Skrif aangewend sal word vir dit waarvoor dit nuttig is: lering (om mense van God te leer), weerlegging (weereens om valse strome verkeerd te bewys), teregwysing (om die oortreder terug te bring na God)
en tot onderwysing (om God se kinders op te voed aangaande die weg van saligheid en 'n toegewyde heilige lewenswandel.
4. Ons maak dit ook ons werksopdrag om die Skrif te gebruik as fondasie om nuwe dissipels vir die Here op te lei (en om ook ou dissipels weer vir die Here op te skerp)
5. As hartklop van ons prediking, wat hierdie liggaam aan die lewe te hou, lê die evangelie van ons Here Jesus Christus. Dus word elke boodskap en elke Bybelstudie ingeweef met hierdie goeie nuus dat daar hoop is
vir sondaars. Dat elkeen wat in sonde besef voor ons Heilige God sy lewe aan Jesus Christus oorhandig wel sondevergifnis en die wedergeboorte ontvang.
6. Ons daaglikse dryfveer is om die voetstappe te wees van hulle wat die goeie nuus bring, want die geloof kom deur die Woord, en die Woord deur die prediking.
7. Ons beywer ons dat al die bogenoemde stappe/prosesse in alle afdelings en bedieninge van die gemeente toegepas sal word.


Teks Verse:

Hebreërs 4:12
"Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart."


1 Petrus 1:15-16
"Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: "Wees heilig, want Ek is heilig".


Handelinge 17:10-11
"Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was."


1 Korinthiërs 13:12
"Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is."


Kolossense 1:28
"Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus voor te stel;"


2 Timotheus 3:16-17
"Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."


Mattheus 28:19
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."


2 Petrus 3:9

"Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom."


Jesaja 52:7
Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!"


1 Johannes 1:9
"As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Adres:

18 7de laan, Newton Park

Port Elizabeth, 6052


Kontak ons by:

Tel: (041) 364-2608

Epos:  baptis@outlook.com


Dienstye:

Sondagoggend 09:30 - 10:30

Sondagskool 08:45 - 09:30

Sondagaand 18:30 - 19:30

Biduur (Sondae) 17:45 - 18:30

Bybelstudie (Woensdae)  19:00 - 20:30

Mannegroep (Saterdae)   07:30 - 08:30

Afrikaanse-baptiste-kerk-port-elizabeth

OK / Close
Who doesn't like cookies?
This website uses cookies to ensure you get the best experience. Read more...